Drie Gedigte

Toast Coetzer

eie terme

jy is hier op eie terme
soos Omar al-Bashir en sy kierie, Jeb Bush en sy uitroepteken, Nasser al-Wuhayshi en sy laaste maal, ’n gewone sekelbos, ’n alleendonkie by ’n droeë fontein

die woestynwind waai, op eie terme,
vlae sandpatrys, woerende bolle stof, los
uit die veraf berge waar die eenhoring
van ’n ou gemsbokbul blink

jy is hier op eie terme, met die kanker
wat jou geringbas het, die dronk bakkie
wat deur die draad jaag en die foonpaal
teen jou kop laat lê en die name vir
al jou lekkende are
een vir een
opsê

hier is jou hart nou, in ’n foto wat nog
by CNA gedruk is, onder ’n hemp waarin
jy kleiner was, en jou vel sagter, jou hare geil,
besig om te lag

daar is ’n tyd wanneer almal – ook al-Bashir, alle Bushes,
ook Zuma – dood gaan wees, en die mense wat om
daardie gate gaan staan, met blink vertoon, of dorings
in hul palms, die eendersheid van hul uiteindes sal herken
in die hoeke van die gat, en die diepte daarvan





bloedsomloop

groot-om loop
doer-om loop
die bloedsomloop
die are geknoop
toe in ’n sloop
in die ou wapad waar kopervoete koop:
olifantpootkoffietafel, volstruisvuisasbak, renostershoringssnuif
FISTPUMP
duif al in die bylsteel af – hierdie is CGI, live, vir jou brein – na die lem daarvan
duik die mond daarvan (van die lem, van die byl)
oop teen die boom daarvan (die lem)
se omloop van (die boom se)
buitewindvel, oopvleisvaatjies, houttong, nat-hart,
grondharsings, mensedonga, woorde gemaak van gewere wat aanmekaargesweis is –
ek versamel die uitroepe van die mense
(die slagoffers die onderdruktes die naamlose dooies)
wat nie gehoor word nie en ek sit hulle
HIER
ver in die wêreld, kyk hie’
hier’s die mier hier teen jou muur
sy skaduwitjie klein
sy bloedsomlopie fyn
trap hom plat hy maak splat
daar spattie eers bloetie, boetie
HIER
wyd omloop, vêr ewenaarwyd,
jou aardbol is rond om te pas in jou iris,
en syd en suid en wyd en wes en naald na noord
(via ’n klein rigting-rapsong)
na jou as reisiger na die pool met jou lippe waarom die robvet blink
en voetbene waarom vleis gedraai is
waarom kouse kraak en swaar dik skoene
gomlastiek, ruimteagtig
soos bybelsbrode, duikbote, gevriesde worshonde in die sneeu vasgekrak word, en diep spore trap in die smeltende wit vasteland
vir wie meeste van ons se oë
nie beskore is, sien
’n katarak kan jy lostrek van jou oog
soos skille
HIER
in die bloedsomloop van die denkende, vroom voorkop,
die onbiologiese hoofbrein wat doen en uitvoer, naai en kap
’n grys granaat in die bakkendhandsbed met ’n delikate pampelmoes vol wilde gedagtes, man, wilde gedagtes, kyk daai katarak is in die vorm van Antarktika
die agterkop-oblongata se koppie bloed – ’n fyngedrukte moerbeimacchiato
waarbinne jy oor die vermoë beskik om uit te haak (messe,
spykers, pangas, kinders lol, moedersmoord), vry te wees, dronk, ’n drol te wees, reksprong te spring, waansinnig, kranksinnig, liefderik, moederlik, vaderlik, oorspronklik
HIER
in jou oor waarbinne die klanke van die ruimte saamdrom as
Toyota Yaris in tweederat, Piet-my-vrou, gruispadtekkies, windafribbokfluit,
bure se TV sitcom-gelag, stoel, werwels kraak, fyntes waters wat ruis, stadsgeroesemoes, Karoolystervlerktwierp, gebriekte windpompneul, die onverwoordbare kleinhondjiegeluid, budgie, alarms, paranoïese staatshelikopters – alles
ALLES
is bloedsomloop, mens, ek en jy is gebind hierdie lint in purper getint
trek Spidermansnaar van hier by my pols tot daar, tussen jou en haar, haar en haar ma, en die ma en dié se dooie oupa, se dooier pa, se doodste grootmoeder begrawe in ’n vinnige graf langs die trekroete, of onder ’n boom iewers, of oorhanggrot, groot griep of koeëls, leeutand, spiese of sommer net ’n tipe onbekende, knaende kanker – daar’s jou snaar, daar’s jou moerbeimacchiato, jou alma maters onderwater, jou geskiedenis wat agteruitloop na jou oer uitkruip-ottergat, die kolk waaruit die lig skyn sodat jou oog ooprek en sien:
die hongertes, die vergrype, eensaamheid, leedvermaak, die leuens van leiers, geldsug, hebsug, net sug, somber & arm rockbands, paddas onderwater in bergpoele, meeu wat chip eet, jou rustigheid gemeet aan likes, aan followers want ons is mos nou almal tipes jesuse, juistement die hartklop, hiertvandaan die voetval, die vingerafdrukke teen jou ruit, die oorblyfsels van ’n gesig in die sand,
dit als drup woordjie vir woordjie deur jou vinger na die vloer:
HIER HIER HIER HIER HIER HIER
HIER HIER HIER HIER HIER HIER





Anene Booysen

die wind het gaan lê
op Bredasdorp
dit is Saterdagaand
tienuur
en Anene Booysen
sewentien
is dood
sy was weggelok van ’n partytjie
sy is weggelei van die lig
in ’n swart kombers
van onverstaanbaarheid
in
vier mans het haar verkrag
haar bene gebreek
haar vingers gebreek
al haar vingers
haar toe oopgeslag
ingewande uitgeruk
in die sand gegooi
in ou Meulestraat
op ’n bouperseel
waar sy as skoonmaker
gewerk het
in die week
sy het nog gelewe
haar swart Grasshoppers gedra
asemgehaal
gelewe
toe sekuriteitswagte
haar kry
sy is hospitaal toe
Bredasdorp
waar haar grootmaakma
wat haar grootgemaak het
ys op haar lippe mog drink
en kon hoor dat
Anene moeg is
en wou slaap
Worcester toe
oorgeplaas
Tygerberg
vir noodoperasie
en sterf
sy het een van die lafaards
die moordenaars
die verkragters
die mans
wag – een van hulle
die verdagtes
was ’n vrou
geken
en sy naam gesê
dit was miskien haar ex-boyfriend
dit was iemand wat saam
met haar grootgeword het
in dieselfde straat
Duinestraat
soos ’n kind in die huis
hoe moes dit gevoel het
om sy naam te sê?
die wind het gaan lê
op Bredasdorp
en in die stilte sit ons almal
in die rietbos en brand