van Membraan
Sheila Cussons
Balling I
Heeldag, kort-kort die hele Meidag al,
wimpel fyn vaal reëngaas oor hierdie berg
se arm grint, yl groen en blertse oker besembos
in bloei, tot by die eerste dakke baksteenrooi
en grys, ou tuine ruig en ouer mure krom—
Die somer kom, ’n swart verkluimde merel
sonder sang, kom traag, ’n weë sleepsel, slakkegang—
ver hiervandaan vlam blare rooi en lug én lig
in ligtelaaie blóú. Daar blink die reën,
blink kaggelvure, en blink die kleinste nietigheid
wat ek onthou . . .
Die somer kom, maar ek gaan winter toe.
Die fret
Genoeg, fret: wees vry. Jou nie meer
vasloop in stoephoeke nie, beton of
marmer onder jou pootjies wat móét grawe—
Jý, sélf, langgelyfde tonnelaar,
jou stert gebós van hoop teen alle hoop in,
dapper klein angstige self—Ek het my
ander verwese selwe gesê ek sién jou soek
na uitkoms, hulle gemaan om roerloos te sit
op die treetjies wat afloop na die wye meer,
opdat jy kan draai en vreesloos vlug
verby ons die treetjies af: hoe bittermooi
is jou pels—Kom, en welkom, en vaarwel,
en red my in die fynbos, die meerduine.
Tonnel vir my, tonnel: eindelik verloste fret.
By uit gemmerbier
Die gode red nie altyd nie, By.
Ag jouself besonder, uitgelepel betyds.
Ek ken ook penarie, hoewel ’n bietjie
ingewikkelder dom of ingewikkelde slim,
sodat ek nog makliker tussen korf
en nektarkelk kan verdwaal.
Dít ook ken ek: jou bedremmelde sit deurnat,
vernederd dronk die joos in: hoekom juis jy?
Maar reeds stroop jy die taai met pootjies
van voelertjies af, sleep ’n entjie druipvlerk,
sit weer asof jy wil sterf—woer-woer
verwoed in die rondte dan tot jy spits op jou
angel-ent tol, ’n danseres en pointe met
wonderlike improvisasies, al knieënde en
elmboënde in oksel en lies, jou buikie hol teen
jou ruggie, die ene gedetermineerdheid
om syig-wollig waasgevlerk weer te vlieg.
Ek pleit met die lug: droog haar tog gou!
Nie vergeefs nie: dit skep jou, lanseer jou
die ruimte in. Dog skaars het jy stippel-verdwyn
of hier kóm jy al weer—Vinnig gooi ek
die gemmerbier uit, en hoop jy sal nog leer:
vanmelewe se soet is tog die beste, of as jy dan
móét “in” wees, dat ’n Iets sal uitlepel net betyds.