uit Fotostaatmasjien

Bibi Slippers

uit “mix tape”

1. Klou

Porcupine-ology. Antler-ology. Car-ology. Bus-ology. Train-ology. Plane-ology.
Mama-ology. Papa-ology. You-ology. Me-ology. Love-ology. Kiss-ology. Stay-ology.
Please-ology. Let’s study class, let's study class. Sit down. – Regina Spektor

ek wil my hande om
’n kaktus of turksvy
vou ’n anemoon in my
mond hou ek wil jou
ek wil jou

ek wil in ’n doringboom
slaap met ’n ystervark
in my arms ek wil leer
hoe om jou hoe om jou

ek wil ’n professor word
in die wetenskap van stekels
ek wil jou doringappel
doringpeer stadig maar
seker afstomp seekastaiing

stekelrog dennebos
ek wil jou ek wil jou
bot hê en onskerp
armadil-akkedis

meidoring lawanaald
as dit onmoontlik is
sal ek wil sag raak
myself spons maak

sodat ek aan jou
aan jou kan klou
sonder gevaar
van ’n steekwond
deur die long





Ondersoek na die aard van obsessie met spesifieke
verwysing na die polkakol-kunswerke van Yayoi Kusama

bespikkelgetik is Yayoi Kusama
van lotjie gestippel en kolleversot

haar kamer haar klere haar tafel
haar lot is alles geheel bepolkagedot

kolvolop kolheelwat kolveel kolvol
en nimmerpunt keelvol of gatvol gekol

die son is ’n kol en so ook die maan
kolgek haar gedagtes kolsinnig haar waan

soms polkagefolter soms polkabedroef
nou polkabefoeterd dan polkabeproef

vermaard is Kusama weens kolkêns praktyk
haar roem is kolmenig en kolligverryk

en kolwerk haar roeping al werk sy haar siek
haar kolkuns al keer teen haar polkapaniek

polkamoeflering in polkakollig
eers polkaberoemd toe polkaberug

en wankelend-wysie-af, sonderling, laf
’n polkadel dans op die rant van die graf

vetroostend en nutteloos heel sonder sin
die polkapatrollie kol ewigheid in

haar trippe haar huile haar grootste
genot is alles vir altyd bepolkagedot

bespikkelgetik is Yayoi Kusama
van lotjie gestippel en kolleverset





uit “Tweede lewe: Outobiografie”

i.

Begin mens by geboorte of
moet jy verder agteruitloop
vir die oorsprong van jou storie?

Agteruit tot in Bloemfontein
en verder tot in Oktober tot in
die lavalampagtige baarmoeder
dan dieper in en verder terug
na die kartondoos voor my ouers
se bed waarin Ben (die mak lam) slaap.

Agteruit van die kansel af by die kerk-
deur uit tot by hul eerste uitgeruilde woorde
in twee rigtings agteruit na onderskeie
eerste asems na twee baarmoeders
verder eksponensieel agteruit
tot in die ewigheid?

Of begin mens eenvoudig
by ’n fotostaat
van ’n geboortesertifikaat?





emoji in die skriptorium

daar is niks heilig in my nie, tog voel
ek in my dronkenskap vandag die ene
monnik: my kamer ’n klooster, jou stilte
’n klok wat al om die uur beier.

dis tyd vir introspeksie en meditasie
stip studie van ons kommunikasie:
’n emoji-dialoog meer ondeursigtig
en dubbelsinnig as die boek Obadja.

ek ontsyfer ons versierde WhatsApp-teks
soos ’n raaisel, analiseer my: “resiesperd
heuningpot,” en jou antwoord: “dolfyn pyn-
appel. dolfyn. dolfyn dolfyn. pynappel.”

oningeligtes sal aanneem dis verspot
dié piktogramme van riete, ballonne
en roomkleurige ramme, maar ons maak
op die vloeibaarheid staat om gelyktydig

mét en verby mekaar te praat. in emoji
kan ons dinge sê sonder om onsself
tussen klipmure van sin vas te keer.
dis nou dinge soos “hart appel” wat miskien

mag suggereer dat ek iets voel in die nadraai
van ons onverwags sondeval. of nie. “skaap
weerlig” kan dalk iets impliseer oor sagtheid,
onmiddellikheid, intensiteit of ewigheid, maar

andersins verwys dit dalk net na jou aandete
en die onweer wat op pad is. “sneeuhaas wit-
rot gedagtewolk.” “hopie boeke. poedel wurm”
“glimag.” “golf.” ek skryf elkeen sorgsaam neer

omdat die doemprofete ’n digitale donker-eeu
voorspel waarin ons data ondeurdringbaar gaan word.
dis vir die nageslag dat ek ons gedagtewisseling
transkribeer: “opblaasvis.” “haasgesig. stortkop.”

“peer.” wanneer die sagteware soveel verouder
het dat ons fone artefakte word en ons voice notes
onhoorbaar, sal iemand darem nog hierdie notas
kan lees en probeer interpreteer.

wat van ons sal oorbly is “sestig snye pizza.”
“sonbesie. shiba inu.” “nukkerige panda-gesig.”
“bisep.” “suggestiewe eiervrug.”




15 instagram-gedigte

Normal

ek wil ’n ander lewe hê, een wat meer
soos Instagram is: volkleur, vierkantig
geraam, geredigeer. gemaklik-vervelig
en ergonomies maar verslawend.
ek soek ’n lo-fi lewe sonder voor of ná,
verlang net na die vrede van dié ingelegde nou
saam met jou, hoe lank kan jy jou pose
bly hou?

 
Mayfair

ek’s die tipe vrou wat slegs
met een hand aan die stuur
vashou wanneer ek fietsend
na ’n oomblik jaag, die ander
klou aan my foon, heeltyd in
gereedheid tog bewus van wat
ek altyd alreeds mis terwyl ek
trappend aan jou kuite dink,
die nagedagte van my hare agterna

 
Valencia

julle twee van wie ek die regte
name nie ken nie wat so sorgeloos
in mekaar se lense lag en vakansie
hou in Spanje en altyd fiets
reis, ek volg julle oral ek voer
myself julle foto’s. al is dit winter
hier en donker, is my oggende
vol mango’s

 
Earlybird

oogkontak is die ergste
as jy eerste opdaag, niemand
ken nie en vasgekeer voel tussen
vreemdelinge. moenie vlug nie,
help is here: improviseer deur dié
lifehack te probeer: lyk besig met
jou oë na jou skerm afgeslaan,
vroetel met jou selfoon se toetse,
neem ’n foto van jou voete


Lark

die beste feed op Instagram is
@HotDudesWithKittens en ja,
dis aantreklike kerels en katjies –
IN DIESELFDE FOTO. genius!
dis als wat mens in die lewe
begeer in die palm van jou hand,
minus die admin van ’n emosionele
band of stink katsand. net jammer
dat data so donners duur is

 
Toaster

Toaster is ’n tech-entrepreneur se troeteldier,
’n labradoodle na wie die filter vernoem is.
meer as 5 000 mense volg vir Toaster op Twitter,
hy tweet meesal “w00f”. soms wonder
ek wat fout is met die wêreld, soms
toast ek my foto’s en hardloop stertswaaiend
en kwylend die trop agterna

 
Nashville

sien was glo in 1928 toe Buddy die gidshond
in Nashville arriveer, die eerste leihond in Amerika
Buddy lei die visionére blinde Frank Morris rond
en maak hom vry, veral van die lui kêrel
wav vroeër sy oë was en so vinnig verveeld
geraak het met die tweedehandse kykery

 
1977

dubbele moordenaar Gary Gilmore se korneas
is ná sy teregstelling op twee ontvangers oorgeplant
sou hulle nog sien na byna veertig jaar? flits daar
ooit voor die oë ’n onbekende beeld verby, ’n bord
vol steak en aartappels, onaangeraak, ingebrand
op DNS, dié polaroid-skoot van ’n laaste maal

 
Moon

ek geniet die oomblik van on-
sekerheid wanneer ek na ’n foto
op Instagram kyk en nie weet of
dit Ruby Rose of Bieber is
wat pose nie.
ek hou van hulle
vloeibaarheid:
ou na vrou na man na maan na an-
drogene eendersheid: ’n genderlose
dubbeldosis James-Dean-Jolie-geit

 
Brannan

selfs ’n begaafde spioen en spoorsnyer
soos ek kan nie uitmaak waar jy vandag
was nie. jy het die plek opsetlik só geraam
dat dit onmoontlik is om te eien. ek bly uit-
gesluit en staan alleen, staar onbegrypend
na die woord bo die deur wat as enkele
leidraad dien: BOYS

 
Willow

op ’n lekker dag vir boomklim
besoek jy ’n bos maar pleks
van klouter pluk jy jou iPhone uit,
los ’n klankspoor met die sluiter
tot by die plek waar ’n stomp
jou staptog stuit. wat as
daar niemand was om die boom
wat omgeval het af te neem nie?

 
Walden

ek het na die woud gegaan want ek wou
met opset lewe soon Thoreau,
aan’t uitkyk vir dinge wat gesien kan word,
en veral ook afgeneem. ek het teruggekom
want die selfoonsein was up to shit en
daar was nie wi-fi nie en ek het begin
doodgaan van FOMO

 
Hefe

ken jy die see, meneer, of net
die mak blokkies kleur wat
daarvoor instaan hier? ken jy
die koue of net die foto’s van
water in die diepste bloue wat
oor die skerm stroom? ken jy
die donker en sy vriend die
dood? of net hierdie kiekies
van ’n kerkhofmuur?

 
Rise

moenie slaap nie, kyk! drie vaal swerms
flikker in oggendlig verby die venster, agter
die gordyne duif hulle saam: ’n af-
gekapte vlerk wat steeds gevlieg kry,
ontsnapte kettingbende musieknote.
moenie dink nie, druk! só fotografeer jy
die vlug van voëls wat gesinchroniseerd versplinter,
die laaste fladdering
van ’n versamelnaam
 

Inkwell

ek weier om te sukkel met woorde
as ek op Instagram kan poetry maak
met ’n swipe, ’n tap, en ’n vintage filter.
my foto van Juan se voet in ’n Converse
high top is een enkel poësie,
bitch. om te suffer vir jou art is old hat.
#aintnobodygottimeforthat