Verlore in Maleisië

SJ Naudé

Artwork by Elizabeth Gabrielle Lee

Daniël vermy gewoonlik die stad se suidelike woonbuurte. Hy dink aan alles daar as klam en muf. Oor die afgelope paar maande moes hy egter baie dae en nagte in Constantia spandeer om sy pa in sy afgang by te staan. Dit het skielik begin, die kwyning: daar was ‘n val, ‘n operasie, ‘n geheue wat skynbaar oornag uitgewis is, ‘n besoek aan ‘n neuroloog, ‘n beeld van atrofie in dele van die brein wat geheue en ruimtelike oriëntasie beheers.

Die laaste keer wat Daniël met sy suster gepraat het, het sy gesê: waarom gaan bly jy nie by hom nie? Jy het mos die vryheid en buigsaamheid. Overgeset synde: anders as ek, wat ‘n heilige plig as moeder en vrou het om my blonde kinders en my sjirurgman – wat my seepgladde bestaan borg – te versorg, is jy mos sonder verpligting teenoor enigeen. Doen nou wat jy moet, jy wat geen kind verwek het nie, wat nie regte werk doen of ‘n eggenoot het nie, wat jou loslitlewe aan jou vader se finansies te danke het. Ons siek vader is joune tot hy doodgaan. Sy bly saam met haar man in ‘n landgoed buite die Paarl, ‘n plek met saamgehurkte huise, mensgemaakte damme, ‘n poloveld, ‘n verre uitsig op berge en die stilte van ‘n psigiatriese hospitaal. Sy is self blond, sy suster. Haar tande is witter as wolke.

Hy sluit die huis wat sy pa nie weer sal sien nie. Die plek, groot genoeg vir drie gesinne om in te woon, dra deesdae die letsels van gebrekkige onderhoud: ‘n geut wat loskom, onkruid wat deur plaveisel beur. So moet dit nou maar staan totdat die boedel beredder word en alles wat vaste vorm het, of wat as inskrywings in beleggingsfirmas se databasisse manifesteer, gelikwideer word. En as iemand ‘n venster wil oopforseer om hier in die sitkamer te kom slaap en soggens in die swembad te bad, sal niemand hulle keer nie.

Daniel huiwer, draai terug. Hy gaan sluit die voordeur weer oop, laat dit so.

Hulle ry al langs die berg se kurwes stad toe. Daniël ry veels te vinnig. Sy pa lê terug; onder hulle los die stad en hawe op in lig. By sy woonstelblok in Tamboerskloof trek hy by die motorhuis in.  Daar is genadiglik ‘n hysbak, en al hou sy pa met borende vingers aan Daniël se boarm vas, kan hy self loop. Hy maak sy pa tuis in die tweede slaapkamer, wat op Leeukop uitkyk. Hy pak die klein tassie uit wat hy twintig minute gelede vir sy  pa ingepak het aan die ander kant van die berg. Genoeg om te hou van wasdag tot wasdag, en tot aan die einde van sy lewe: sewe pare sokkies, sewe frokkies, sewe onderbroeke, sewe sakdoeke, sewe broeke, sewe hemde. ‘n Trui en baadjie. Een paar skoene.

Hier woon sy pa nou saam met hom, teen hierdie heuwel bokant die stad. En in hierdie klein slaapkamer is die laaste matras waarop hy sekerlik sal slaap, die laaste kasdeur wat hy sal oopmaak, die laaste bedlampie wat hy sal aanskakel.

 

*

Hulle roetine begin vorm kry, met enkele variasies. Sy pa word gewoonlik vroeg wakker, gaan sit by die kombuistafel aan, wag vir ontbytvlokkies. Geduldig. Aan die begin van sy demensiediagnose, en toe hy sy neurologiese medikasie begin drink het, was hy vol onrus. Daar was by hom groot dringendheid: met eindelose lysies, waarop items sistematies deurgehaal word, het hy die uitgestrooide katalogus van die gedagte probeer orden, die korrupte databasisse probeer herprogrammeer. Hy het Daniël, met wie hy voorheen hoogstens twee of drie keer ‘n jaar sou praat, ‘n dosyn keer ‘n dag begin bel om dieselfde vrae te vra –  oor sy beleggings, sy bankrekeninge, sy motor (wat hy nie meer bestuur het nie) se diensintervalle, sy doktersafsprake. Vrae wat Daniël eers kon begin antwoord toe hy homself op hoogte van sy pa se sake gebring en dit begin oorneem het. Maar nou eet sy pa gedweë vlokkies met melk, dalk ‘n piesang daarby, miskien ‘n bietjie tee. Kort ná ontbyt wil hy uitkom, gaan stap, iewers sit en koffie drink. Dan keer hulle terug dat hy ‘n bietjie kan rus. Soms wissel hulle die roetine af, gaan eet hulle ontbyt iewers. Middagete is gewoonlik tuis.  En ná middagete wag hulle (vergeefs) dat die ergste hitte bedaar, gaan stap weer, vind weer iewers koffie.

Hulle drink hul oggendkoffie terwyl die res van die stad aan die gang kom—in die toringblokke word magnetiese kaarte geswiep om kantoordeure te laat oopgly, word rekenaars zoemend aangeskakel, word gesigte na lugversorgers gedraai. Sy pa sê niks nie, drink sy koffie. Oewerlose stiltes kenmerk meeste van hul tyd saam. Daar is ‘n sluier mis tussen sy pa en die wêreld, en tussen die twee van hulle. As Daniël sy pa vra hoe hy voel, dan moet hy eers vir ‘n lang tyd dink, maak dan ‘n vae gebaar na sy voorkop, sê iets van druk, van dofheid, van reënwolke. Al is die lug daarbo diepblou.

Terug in die woonstel skakel Daniël vir sy pa musiek aan. Elk dag wil hy na dieselfde speellys luister—barokgunstelinge. Daniel speel dit op sy televisie—‘n gesofistikeerde toestel wat iemand vir hom opgestel het, met ‘n klein subapparaat wat met sy iPhone sinchroniseer. Hy beheer die musiek vanaf sy foon, laat die stukke in lukrake volgorde speel. Hy gaan sit by die eetkamertafel sonder om na sy pa op die rusbank te kyk. Hy slaan sy rekenaar oop, probeer skryf. Die lug hierbinne voel oud—‘n bedompigheid wat selfs nie wyk as mens die balkondeure oopmaak nie. Dis asof hulle in ‘n vertrek sit waarin daar in dekades geen mens was nie. Telkens as Daniël ná maande in Londen in Kaapstad aanland, maak hy alles oop, probeer hy die plek met vars lug vul, maar ‘n gevoel van afwesigheid bly talm.

 

*

‘n Ruk ná middagete—vrugte en brood, waarvan sy pa skaars enigiets eet—gaan stap hulle weer in die hitte wat bewegingloos in die stadskom hang. Hulle stop oudergewoonte vir koffie. Toe hulle so teenoor mekaar sit, raak sy pa verskonend, asof hy hom nou gedwing voel tot ‘n graad van interaksie. “Jammer ek is so ongesellig,” sê hy. “En, ag, ek wil tog nie op my oudag op my kinders se nekke lê nie.”

“Dis niks,” hoor Daniël homself sê. “En dis geen las nie. Dis tog net belangrik dat ons hier saam is.” Eintlik wil hy opstaan en wegloop. Sy pa hier agterlaat. Nie terug na die woonstel nie, maar kortpad op teen Seinheuwel, verby Leeukop, op teen Tafelberg. Sover as wat hy kan. Sonder om eenmaal af te kyk na die enkelfiguur wat hier onder by die tafeltjie vir twee bly sit.

Sonder dat hy dit so beplan, begin hy vir sy pa van ‘n vorige verhouding in Londen vertel. Al herken sy pa nog sy kinders, is daar skaars enige herinneringe oor. Wat sy pa vroeër oor Dániël sou geweet het, is weliswaar nie veel nie; daar was min inligting om saam met die breinweefsel weg te krimp. Hulle het in ten minste ‘n dosyn jare nooit oor ‘n enkele aspek van mekaar se persoonlike lewens gepraat nie. Sy pa sou eens wel geweet het dat Daniël op ongereelde grondslag tussen Londen en Kaapstad pendel, dat hy soms stukkies politieke en kulturele joernalistiek vir Britse en Suid-Afrikaanse koerante neerpen, dat hy tussendeur fiksie skryf. Seldsame soorte aktiwiteite in sy pa die beleggingsbankier se eermalige wêreld van finansiële tussengangerskap, en moeilik daarmee te versoen. Jare gelede, toe sy pa se goedkeuring nog getel het, het Daniël as bestuurskonsultant in Londen gewerk. Op die vorm van die lewe wat hy deesdae lei, sal sy pa geen greep kan kry nie. By uitstek sy verhoudingslewe.

Wat Daniël nou vertel, vertel hy omdat hy weet sy pa sal dit ‘n uur of twee later vergeet. En seker ook om die stilte te breek. Dis ‘n fragment van die storie van ‘n ou verhouding. “Ek moet jou vertel van Eamon, Pa. Een van my eks-minnaars daar in die Noorde. ‘n Ier. Hy het vier jaar gelede by my ingetrek in Londen, en is so elf maande daarna weer terug Dublin toe.” Sy pa glimlag net. Daniel delf in die besonderhede van ‘n reis wat hy en Eamon onderneem het. Hoekom Daniel juis hiérdie brokkie kies, weet hy nie – dis maar wat by hom opkom, hier in die stadsholte wat so bedrieglik koesterend lyk. Hy vertel van hul week in Oos-Ierland, waar Eamon grootgeword het. Hy kyk na sy pa se bevrore glimlag en wasige oë terwyl hy die Ierse landskappe in besonderhede beskryf. Dan vertel hy van sy en Eamon se oggende in ‘n beknopte gastehuis, versier met Ierse kitsch vir die strome Amerikaanse toeriste wat hul familiewortels kom naspeur. Hy kyk reguit na sy pa terwyl hy uitbrei oor die amper ondraaglike genot wat hy en Eamon soggens aan mekaar se lywe gehad het, daar tussen prente van klawerblare en grynsende groen kabouters, terwyl die son oor die Ierse See opkom.

Hy kyk na die passiewe figuur oorkant hom, na die betekenislose glimlag. Hy wil sy pa gryp en skud, sy brein tot aksie skok.

 

*

Ná middagete gaan rus sy pa vandag eerder as om te stap. Die hitte word al erger; ‘n langdurige hittegolf word voorspel. Daniel staan in die gang, waar dit die koelste is. Hy kyk na die skootrekenaar op die eettafel, na die sluimerende skerm. Die ou weerstand moet oorkom word. Hy kan nie vermy om homself in die ongemak te dompel nie. Hy moet vrede maak met die onvermydelikheid van dit wat geskryf moet word, met die ondraaglike onvoltooidheid daarvan. Die opdringerigheid van verhale, dink Daniel – hierdie dwáng—sal nog sy ondergang bewerkstellig.

 

*

Soms, in die aande, het sy pa ‘n verbasende helder interval. Dit gebeur ‘n uur of wat ná hy sy medikasie geneem het, insluitend ‘n sterk slaappil wat veronderstel is om hom uit te knikker.  Dit skok Daniel die eerste maal. Dis asof ‘n spook uit die verlede hom besoek, hier bo die stad en baai se skittering. Sy pa lê al in die bed, maar wil skielik geséls. Hy is vol lewe en gebare. Hy maak aanbevelings oor hoe sy bates bestuur moet word, raak wyshede oor onlangse politieke gebeure kwyt—blykbaar neem hy wel feite in wanneer hy bedags oënskynlik onsiende deur koerante blaai. Iewers word inligting tydelik gestoor, tot die gordyn op ‘n skreef oopgaan en die brein dit kan prosesseer. En hy praat in besonderhede oor die verlede, oor aspekte van sy eie lewe wat Daniël meesal uitsluit, soos sy beroepslewe en reise, of, met ‘n sagter stem, oor Daniel se oorlede ma. Dan ook oor sy kleinkinders, die welgevoede sjirurgstelge iewers naby die Paarl. Hy noem nie, soos hy in hierdie omblikke sekerlik ook moet besef, dat hy die einste kinders, en sy dogter, maande laas gesien het nie.

In hierdie tye is Daniël se mond gesnoer, trek sy keel toe. Is dit sy pa van twee dekades gelede wat  hier voor hom verrys? Of van ses maande gelede? Dit ontsenu hom, hierdie ongedetermineerdheid. Wie is dit op hierdie bed? Dit voel vir Daniël asof elke ding wat hy nou sou kon sê ‘n geheim is wat uitgelap word, asof alles teen hom gehou sal kan word. Hy ervaar ‘n soort skaamte, waak nou oor elke woord. Sy pa stoom voort, stort sy hart uit – kognitief en emosioneel is hy ineens teenwóórdig, intellektueel gespits. Weer een of ander ou self. Daniel kyk met afgryse na die man wat homself al verder uit die kussings lig, al hoër teen die bedkopstuk op soos sy selfvertroue groei. Hy registreer sy pa se éie verbasing oor die helder stroom water wat sy gedagtes skoonwas, oor die son wat inskyn waar dit lanklaas was.

Daniel sien uit na die dagure, wanneer sy pa weer sal wegkrimp. Wanneer hyself weer Dániël sal wees, sal kan sê wat hy wil. “Slaap nou, Pa het lankal reeds ‘n slaappil in.”

Daar is selfs ‘n glimp humor: “Jy wil nou net van my ontslae wees, nè? Noudat ons eindelik behoorlik van aangesig tot aangesig kan gesels.” Sy pa kyk na hom met ‘n wetende glimlag. Mens sou kon dink dit was alles ‘n vertoning, die dag se verwarring. Dat hierdie sy ware vader is, een wat dít wat van sy lewe oorbly daaraan wy om sy afvallige seun ‘n omslagtige poets te bak. Hom ‘n les te leer. Daar sit die ouer man: hy beduie terwyl hy praat, sy stem opgewonde, sy sinne vol, sy gesig vol beweging. Hy skud sy kop oor Donald Trump se idiootagtigheid en oor Brexit, tob oor ontwikkelinge in internasionale handel.

Maar toe sy pa die volgende oggend verdwaas sy opwagting in die kombuis maak, die oggendson in sy penorent hare, en vra “waar is ons nou?”, al soekend deur die vertrekke waarin hy oortuig is hy nog nooit voorheen was nie, dan weet mens in ‘n oogwink dat die verwildering onmoontlik ‘n affektasie sou kon wees.


 
*

Hullle is in ‘n vaal ontbytplek op Seinheuwel se laer hange. Sy pa sê niks, sit net, raak nou en dan aan sy kop. Hy is nie hééltemal afwesig nie: as Daniël praat, dan glimlag hy, sê iets hofliks en niksseggend in respons. Hy deursoek sy pa se gesig. Hoe maak mens sin van die onewe verloop van die hoof se lediging, die manier waarop jy op geen oomblik met akkuraatheid kan takseer wat ingeneem of geprosesseer word nie?

Hoe dowwer sy pa se teenwoordigheid, hoe vaer sy glimlaggie, hoe meer vryelik kan Daniël praat. Hy bou voort op die tema van ‘n reeks mislukte verhoudinge in Londen. Die vertellinge word ál intiemer. Dis jou skuld!, wil hy sy pa uit die bloute toesnou ná hy pas in besonderhede vertel het van die Brit wat so twee jaar gelede ook ‘n ruk lank by hom gewoon het. Josh – ‘n argitek, klein van postuur, Joods, ‘n dekade jonger as Daniël. Dit wil sê tot Josh een aand ná ‘n argument sy kop geskud en gesê het: “Wat met jou fout is, is nie iets wat ek – en ek durf se énigiemand – sal kan regmaak nie.” Toe het hy by die voordeur uitgeloop en nooit weer teruggekom nie.

En, toe sy pa niks sê nie, gaan Daniël voort, vertel van nog een—die Duitser met tatoes op sy hande en nek. “Jy sou hom nie goedgekeur het nie, Pa, daardie minaar van my. Hy’t as ‘n kaartjieverkoper by die National Portrait Gallery gewerk. Udo was sy naam.” Sy pa het die uitdrukking van ‘n sfinks. Daniël kyk op, na die rigting van die sweefspoor, probeer die kabel teen die berg en silwerblou lug uitmaak.“Ek weet ook nie eintlik wat daar fout gegaan het nie. As ek aan hom terugdink, aan Udo, dan dink ek aan ons langnaweek weg in Devon. Ons het gaan stap in ligte lentereën. In ‘n veld wat blou was van krokusse en grasklokkies. Onder berkebome het ons gaan staan, bors teen bors, en ons hande om mekaar se polse gesluit. Ek het gedink, hier is nou iets, of die begin daarvan. ‘n Kragtige stroom het tussen ons uitgewissel. Ek on dit voel. In my bloed. En toe, ná die naweek, hoor ek nooit weer ‘n woord van hom nie.”

Hy kyk in sy pa se oë, probeer iets vind. “Nee wag, Pa, laat ek my vroeëre stelling aanpas. Daar is géén minnaar wat jy sou goedgekeur nie.”

Sy pa trek sy gesig, raak aan sy voorhoof. “Daar is soveel druk hier,” sê hy. “Asof my kop wil bars.”

 

*

Hy het sy pa ‘n lang ent laat stap hierdie keer. Hulle sit in ‘n koffiewinkel in laer Higgovale. “Vertel vir my nuus van jouself.” Sy pa glimlag terwyl hy praat—aanmoedigend, goedgesind, vol onbegrip. “Hoe gaan dit, byvoorbeeld, met jou skryfwerk?”

Daniël is uit die veld geslaan. Enersyds omdat sy pa onthóú dat hy skryf, maar meer nog omdat hy Daniël vir die eerste keer ooit daaroor uitvra. Noudat die sinapsvonke so stotter.

Daniël ignoreer die vraag. Hy begin nog ‘n Londense storie vertel, van twee Serwiërs wat hy in Londen bevriend het vroeër die jaar. Hy vertel stadig, in veel meer besonderhede as wat hy in sy fiksie sou. Die dag strek lank voor hulle uit; hulle het tyd om te verwyl. Hy vertel hoe hy die twee—Oliver en Jugo—in ‘n museum ontmoet het. By ‘n retrospektief van Agnes Martin, die Amerikaanse minimalistiese skilder. Hy vertel hoe hulle bevriend geraak het, hoe hulle by hom ingetrek het in sy woonstel in Borough. Sy pa se glimlag verdwyn. Hy is nou uitdrukkingloos. Sy vel lyk droog, sy oë drywend.

“Dis ander storie daardie,” sê sy pa en skud sy kop, “as wat ek wil hoor.”

“Dalk is dit,” sê Daniël. “Maar ek wil dit hier indwing. Of liefs, dit dring self aan om deel van ons gesprekke te word.” Hoe meer sy pa vergeet, hoe meer wil Daniël onthou. En hy wil sy pa laat wéét dat hy onthou.

Sy pa staan abrup op, begin wankelend wegstap. Daniel betaal die rekening, stap agter sy pa aan.

 

*

Vroegskemer. Die maan kom op, ‘n lui swaar bal. Agter Daniël speel die barokmusiek vir sy pa, wat op die bank sit met sy kop agteroor, net halflewendig. Daniël self leun buite oor die balkon se glasbalustrade. Sy lewe—so fyn gebalanseer tussen twee lande, dink hy, maak dit moontlik om Suid-Afrika soos ‘n vreemdeling te benader. Of nee, soos iemand van ‘n ander planeet. Om alles te aanskou soos vanuit ‘n ruimtetuig. Hy kan oor die politiek hier skryf en praat, in die fynste nuanses daarby bybly, maar nooit hoef hy naby daaraan te kom nie.  En só lyk die liggies vanaand, soos iets wat mens vanaf ‘n groot afstand aanskou. Tog, terselfdertyd sou hy, as hy ‘n arm uitsteek, met sy vingers aan die stad se gesig kon raak. Hy hou sy hande in sy sak.

Sy pa is wakker, stap  op die balkon uit. Hy kyk nie uit na die wye vlakte vol liggies nie, maar op na die neo-modernistiese kubusse teen Seinheuwel.

“Die taal van reën,” sê sy pa. Daniel snuif die lug. Dis warm en kurkdroog. Sy pa draai nou anderkant toe, na die stad se silwer gloed. “Kyk hoe skyn die landskappe van glas,” sê hy. “Hier kom die aand nou.”

Inderdaad, dink Daniel, hier is dit—die genade van duisternis in hierdie stad wat hy so deprimerend vind. So oorverlig, so oorweldig deur die son: stad van argelose, luierige vreugdes, van mengeldrankies en klam swembroeke, van drawwers teen berghange.

Die musiek wat nog daar binne speel, trek ‘n gladde laken oor die geboue onder hulle. Daniël sluit sy oë, stel hom in op die skemer, op die lawende ondertoon van seebamboes in die naggeur. Onder sy voete is die balkonvloer nog lou. Toe hy sy oë oopmaak, het sy pa weer binne gaan sit. Daniël gaan sit langs hom, die balkondeur steeds oop. Die televisie se sluimerskerm wys stede uit die lug terwyl die barokmusiek speel: op hierdie oomblik is dit Los Angeles, stad van die engele, wat statig verbyskuif. ‘n Knoop van snelweë, stoete motors in stadige aksie.

Hy dink aan ‘n popvideo wat hy eenmaal gesien het, met Los Angeles as toekomsstad. Die regte stad, herkenbaar, maar met futuristiese geboue tussenin ingeredigeer. ‘n Smeersel van lig, van aluminium en glas. Flikkerings in newel.

“Waar is ons nou?” vra sy Pa ineens hard.

“My woonstel.” Daniel praat sag. Die sluimerskerm het nou aanbeweeg na Dubai se woestyngeboue met hul swembaddens op die dakke. ‘n Eks van Daniel wat op ‘n tyd in Dubai gewoon het, het eenmaal vertel hoe die woestynlug die swembaddens sodanig verwarm dat die water elektries verkoel moet word om swemmers te verkwik. Hy kyk na sy pa. Nog ‘n storie vir ‘n koffiesessie, die een van die Dubaise eks.

“Ja, maar watter land?”

“Dit maak nie saak nie, Pa. Hierdie land, daardie land. . . Of liefs: jou instink is reg. Hier is so goed as nêrens. Vir jou, maar ook vir my.” Daniel grinnik. “Dis een ding wat ons gemeen het.” Hier is hulle nou – saam gestrand op hul verhewe platform, bo die koel skittering van ‘n amorfe stad.

Daniel dink aan hoe hy die neuroloog vertel het van die helder intervalle wat sy pa soms saans beleef, wanneer Daniël dan sy ou pa terugvind (hy het nie bygevoeg dat laasgenoemde meer van ‘n vreemdeling is as die nuwe een nie). Die spesialis was skepties. Hoe dit ook al sy, vanaand is nie een van daardie aande nie. Sy pa is goedig onnosel, sy gesig met ‘n debeleglimlag versier. Op die televisieskerm nader die alsiende kamera nou Hong Kong se flikkerende spitse vanuit die hoogte.

Daniël gee sy pa sy medikasie, trek in sy eie kamer terug. Hy skakel die dakwaaier aan, gaan lê nakend op sy rug. Hy sluimer in asof hy in een van Dubai se ysige dakswembaddens ingly.


 
*

Die drukking in sy pa se kop neem toe. Eksponensieel, lyk dit vir vir Daniel, ‘n onthutsende progressie. En hy eet al minder, babakos nou: fyngemaakte piesang, jogurt, papaja, hawermoutpap, rooibostee met heuning. Op die televisienuus kyk sy pa na ‘n storie oor ‘n treinkondukteur wat in Kalkbaai met ‘n mes in die kop gesteek is  deur ‘n passasier. Sy pa se hande beweeg onwillekeurig na sy eie kop toe.”Ek kan sweer,” sê hy, “ek het ‘n lem in my skedel.”

Daniel neem sy pa weer na die neuroloog, wat reken dat daar, benewens die atrofie, moontlik ook ‘n opbou is van vloeistof in die brein. Hulle doen balanstoetse—hulle laat staan hom met sy oë toe,  stamp hom en kyk of hy omval, vang hom dan as dit gebeur. Hulle doen ook ‘n geheuetoets. Een aspek daarvan behels dat hulle vir sy pa ‘n lukrake naam en adres lees om 10 minute later weer te gee. Harry Barnes, 10 Orchards Close, Kingsbridge, Devon. (Dit moet ‘n Britse toets wees.) Toe die arbeidsterapeut sy pa ná ‘n reeks ander oefeninge vra om die adres te herroep, kyk hy verlore na Daniël. Hy sou iets kon fluister, sy pa se verwildering en vernedering  kon ophef. Sy pa se blik word ‘n smeking; Daniël se mond bly gesnoer.

Tuis val hulle min of meer terug in die ou roetine. Op die televisie, terwyl Dido se klaaglied uit Purcell se opera speel, wys die sluimerskerm weer stede uit die lug. Hong Kong wat in sy eie swart baai weerkaats, Dubai se glasgeboue met hul hemelhoë swembaddens.

Hulle bevind hulle laatmiddag in ‘n koffiewinkel, hoog op, in een van Tamboerskloof se mooi Victoriaanse strate.  Die son sak amper agter Leeukop weg. Daar is niks, dink Daniël, wat hy nie vir sy pa kan vertel nie. Alle hindernisse is uit die weg geruim. Die psigiese ruimte tussen die twee van hulle is soos ‘n pan in ‘n woestyn. Wit en plat en amper wrywingloos. Nietemin sê Daniël vandag g’n woord nie.

Teelepels  klink teenn pierings. Sy pa wys voëltjies uit wat krummels op die sypad kom oppik. Op pad terug is sy pa ingekeer, asof dit al sy energie absorbeer om die ongemak in sy skedel die hoof bied. Hy loop skynbaar onsiende, twee vingers teen sy slaap, een voet oor die ander. Ineens gaan staan hy en wys na ‘n kragdraad. Dosyne duiwe sit daar. “Dis posduiwe,” sê hy. “Wie weet na watter planete hulle hul boodskappe gaan neem. . . ”

Kort hulle by die huis kom, krys ‘n kolgans, een van ‘n broeipaar wat hul op die skool oorkant se swembad tuisgemaak het. Sy pa flikker op, haas hom na die venster, gehipnotiseer deur die voëls daaronder. Hy het nou skynbaar net oë vir gevleueldes, groot en klein. Hy kyk op, skreef sy oë, deursoek die lug vergeefs vir swerms.


 
*

Die neuroloog boek Daniël se pa in vir ‘n lumbale punksie. Hy word opgeneem in ‘n eertydse katolieke hospitaal in die suidelike woonbuurte. Hier en daar is daar nog leë nisse waar  Maria-beelde moes gestaan het; ‘n kruis is in klip uitgekerf bo een ingang; die sale dra nog die name van heiliges. Maar nonneverpleegsters se klede suis nie meer in die gange nie; die instelling behoort nou aan een van die groot hospitaalgroepe, is korporatief ontsmet. Hy sit langs sy pa se bed en lees. Hulle wag; die ure gaan verby. Die dokter is besig met ‘n noodgeval in intensiewe sorg, sê die verpleegster. Daniël en sy pa word aangesê om te wag. En te wag.

Daar is een ander pasiënt in die saal, ‘n lang maer man met een bloedrooi oog. Toe Daniël die eerste keer na hom kyk, lyk dit soos ‘n hol oogkas. Daniël draai vinnig weg. Toe hy tersluiks terugkyk, sien hy die oogbal is tóg daar, dog erg bloedbelope.

Hulle kom haal sy pa vir ‘n elektro-enkefalogram. Die mediese tegnikus plaas handevol elektrodes oor sy pa se kop, wikkel die drade in ‘n knoopwerk oor sy voorkop vas. Agter hang die drade van sy kop soos wier.  Op die tegnikus se rekenaarskerm vibreer grafieklyne in nerveuse patrone. Nou en dan is daar ‘n skielike gelyktydige trog in die lyne. Die tegnikus skud haar kop “Ek kry soveel artefak saam met die impedansies vandag,” sê sy asof Daniël moet verstaan wat sy bedoel.

Sy pa draai sy kop, wys na die skerm. “Meet dit die vlug van elektriese voëls? Van robotswerms?” Van die elektrodes val af. Die tegnikus skud haar kop, sit sy arm op die bed langs hom terug, sê hom aan om stil te lê. Sy staan op en herplaas ‘n handvol elektrodes, herhaal haar metings.

Die elektrodes word verwyder. Sy pa gaan terug na die saal. Die pasiënt langsaan, met die bloedrooi oog, word druk besoek—daar is ‘n eindelose rotasie van fisioterapeute, arbeidsterapeute, neuroloë, oftalmoloë. Vir elkeen vertel die arme man die storie: hy is ‘n kommersiële vlieënier. Ses weke gelede was hy vir ‘n paar dae in Maleisië, waar hy aangeval is op straat en vir dood agtergelaat is. ‘n Barmhartige Samaritaan het hom hospitaal toe geneem. Hy was drie dae bewusteloos en toe vyf weke in die hospitaal. Hy het gebreekte bene in sy gesig gehad, snye en kneusings oral, asook bloeding op die brein. Hy onthou niks van die voorval nie, en net ‘n deel van die hospitaalverblyf daarna. Sy vlieglisensie is hom outomaties ontneem weens sy beserings; nou moet hy dit probeer terugkry. Derhalwe al die toetse. Die terapeute en deskundiges bly sirkuleer, elk met sy eie toets of ondersoek. Elk met ‘n lêer of knipbord in die hand. Telkens word die gordyn om die bed toegetrek, volg ‘n effens verskillende ritueel. Oor en oor word die storie vertel, elke keer met die geheuegaping in die middel. Dieselfde arbeidsterapeut wat Daniël se pa vroeër geassesseer het, kom doen ‘n kognitiewe - en geheuetoets op die eermalige vlieënier, vra dieselfde vrae. Sy pa lê toe-oë; Daniël prewel die antwoorde onder sy asem: ‘n lys woorde wat met ‘n ‘p’ begin (“pou, pienk, pad”), naamwoorde wat hy moet herhaal (“suurlemoen, sleutel, bal”) die adres van die Brit in Devon wat aan die einde van die toets weergegee moet word. Die man met die rooi oog kry min antwoorde reg, onthou skaars enigiets. Daniël byt op sy tande, moet homself stilmaak.

“Hý sal nie weer vlieg nie,” sê Daniël se pa hardop, sonder om sy oë oop te maak. Daniël sit regop. Hy was onder die indruk dat sy pa slaap, of ten minste swymel. Van agter die gordyn is daar ‘n paar oomblikke se geskokte stilte voor die arbeidsterapeut huiwerig die toets voortsit. Die eks-loods praat nou sagter; sy antwoorde is selfs meer vertwyfeld.


 
*

Die neuroloog maak laataand eindelik sy verskyning by sy pa se bed. Hy laat die tagtigjarige opkrul, knieë opgetrek, gereduseer tot ‘n fetus. Dan druk die  dokter ‘n dik naald in sy laer rug. Die breinvloeistof druk in ‘n pipet op; die meniskus dui druk aan. Dan tap die dokter etlike flesse af. “Mooi helder,” sê die dokter. “’n Goeie teken.”

Daniel ry terug huis toe, gaan slaap in sy woonstel aan die ander kant van die berg. Hy oorweeg om sy suster in haar geruislose wit huis naby die Paarl te laat weet dat hul pa in die hospitaal is. Nee, dink hy, hy sal haar nie steur nie. So ‘n brosse bestaan, een wat die wêreld van rou ervaring so effektief uitsluit, moet liefs nie beroer word nie. Sy suster sou sekerlik verkies dat hy bloot vervaag, hul Pa, dat hy in die eter verdwyn sonder hierdie lastige proses van vleeslike kwyning. Sy sorg, in elk geval, dat sy nie die verbrokkeling hoef te aanskou nie. Laat hulle rus, besluit Daniël, sy suster en haar man, daar neffens die Paarl. Laat die bergbriese vars lug oor haar en haar man se slapende lywe uitasem.


 
*

Die volgende oggend is daar twee besoekers vir die eks-loods wie se lewe een aand in die Verre-Ooste verwoes is. Klaarblyklik sy ouers. Hulle trek die gordyn om die bed toe. Daniël sit langs sy eie pa se bed, ‘n boek in sy hand. Dog hy kan nie help om na die gedempte gesprek te luister nie. Verpleegsters gesels in die gang. Skoonmakers lag iewers. Hy hoor net drywende fragmente  van die gesprek.

 “. . . hoe hulle jou gevind het. . . drie weke. . . . ,” sê die vlieëniersmoeder.

“Ek onthou eers van so week vier af,” sê die vlieënier. ‘n Sin of twee raak weg in die geroesemoes.

Flardes van die moederstem: “Niks op Facebook nie. Dit was . . . Sy het ons laat weet daar’s ‘n website. Eers toe ons daar ‘n boodskap en jou foto post . . .  hospitaal se naam. Toe kontak ons die redery . . .  ons laat oorvlieg . . .  Eers die hotel, net jou tandeborsel wat daar lê, jou vlieguniform. Netjies uitgesit vir die vlug terug . . .  Paar skoon kouse. Sy snik nou. “. . . en toe hospitaal toe . . . ”

“Watter website . . . ?”

‘n Skoonmaker lag uitbundig in die gang; ‘n suster (dalk nog een van die laaste nonne?) maak haar stil. “Op lostinmalaysia.com,” sê die loods se ma, “. . . deur ritse name gegaan . . .  daarsonder sou ons dalk nou nog gesoek het. Niemand kon adres of name by jou kry . . . En eindelik, eindelik, vind hulle jou daar: in ‘n wit bed in ‘n hospitaal in Maleisië. ” Die verpleegsters en skoonmakeer is nou doodstil, asof hulle luister. “Met drie gebreekte bene in jou gesig en bloed op jou brein.” Die vrou snik toe sy sê “brein”.

“Maar nou,” sê die loods, “is alles weer reg. Nog net die laaste paar toetse.”

Daniël se pa wil opstaan, in die hospitaaltuine gaan stap. Daniel neem hom aan die arm, bestendig hom, stap saam om te verhoed dat hy iewers tussen die struike verdwaal. Toe sy pa op ‘n bankie gaan sit en opkyk, sê hy: “Waar is hulle? Ek vóél die vlerke.”



Click here to read an essay by SJ Naudé on self-translating his book, The Alphabet of birds, from the Winter 2015 issue.