Die Boek van Toeval en Toeverlaat

Ingrid Winterbach

Artwork by Kazunari Negishi

Ons gaan voort met die letter D. Dit is die begin van Junie. Die obsessiewe, bykans perverse somerse getier raak minder. Soos iemand wat aan die einde van 'n maniese episode kom. 'n Paradyslike vredigheid sak toe. Dit raak koeler, hier en daar val selfs 'n blaar. Die poinsettias begin blom. Sedert die middel van Mei is daar reeds 'n versadiging in die lug, soggens vroeg en saans word die kleure dieper en ryker. Die aarde word geuriger. Heelwat ander plante blom ook in die herfstuin van my huisbaas. Dit is anders as die herfs en naderende winter soos ek dit ken. Die somer se bedreigende weligheid word afgelê soos 'n psigiese aantasting; daar is 'n nuwe voorneme van gevoeglikheid in die lug. Daar is die belofte van inkeer en rypheid. Selfs in hierdie provinsie, waar mens dit nie verwag nie.

Theo Verwey sit vanoggend agteroor in sy stoel gebalanseer. Moenie, wil ek sê, jy sal agteroor val. Ek het hom nog nooit vantevore so sien sit nie. Hy is diep in gedagte. Sy handpalms is dig teenmekaar en sy wysvingers rus teen sy mond. Hou hy vanoggend 'n wag voor sy mond? Wil iets uitglip? Hy is nie dié soort man nie. Ek lees hom nie so nie. Al gee ek toe dat ek hom nie goed lees nie.

Ek sit met die dik pak kaarte in my hand, die woordeboeke oop voor my. Die boonste kaart in die pak is da. Die laaste kaart is dyvelaar. Tussenin is al die kaarte met doodsverbindings.

"Da," sê ek, "vanwaar kom dit?"

"Da, of , is waarskynlik 'n verkorting van daar en is die eerste keer in Afrikaans deur Pannevis opgeteken as deh en in die Patriotwoordeboek as ."

"Dyvelaar," sê ek (tergerig), "soos in twyfelaar?"

"Dy-vel-aar, of te wel, dyhuidaar."

"Waar sou hierdie dyhuidaar loop?" vra ek. "Die dyvelaar."

"Dis 'n aar aan die onderbeen, die vena saphena," sê hy, "nie te verwar met die dybeenslagaar nie, of die dyslagaar, die arteria femoralis nie."

"Wat sou die dermbeen wees? En die dermbeendoring," vra ek.

"Die dermbeen is die boonste, plat gedeelte van die heupbeen, die ilium, en die dermbeendoring is enigeen van die puntige uitsteeksels aan die dermbeen."

"Dermbeendoring," sê ek. Ek herhaal dit 'n paar keer om die ongewone opeenvolging van klanke in my mond te voel.

Ons luister nog steeds na madrigale van Monteverdi, uitgevoer op historiese instrumente: Madrigali guerrieri et amorosi uitgevoer deur die Taverner Consort Players, gedirigeer deur Andrew Parrott. Dit is nie my gunsteling Monteverdi-musiek nie, maar ek maak nie beswaar nie. Die volgende snit is wel wonderskoon, en ons luister in stilte daarna. "Su pastorelli vezzosi. Su, su, su, fonticelli loquaci." (Ontwaak, babbelende fonteine.)

Theo leun agteroor in sy stoel, sy hande agter sy kop, en dit moet die uitwerking van die musiek wees, want ek raak onverwags oorval – oorspoel, oorrompel – van 'n seksuele ontvanklikheid teenoor hom soos ek nog nie vantevore ervaar het nie. Die sensasie is so intens dat ek effens naar voel en moet vooroorbuig. Die hemel behoed my, dink ek, ek sou my hande onder sy hemp kon ingly, oor die borskas, en in die okselholtes laat nestel.

Dit neem 'n tydjie voor ek my konsentrasie herwin. Ek blaai verder deur die oop woordeboek op my skoot. Ek lees die omskrywings van dood en lewe. Vanoggend het ek opgestaan met 'n verhoogde gevoel van sterflikheid. Die sagte okselholtes, die kragtige manlike maag, die teer lies en wreef van die voet. Hoe sou dit wees, die seksuele liefde met hierdie man? Ek het Theo Verwey 'n dag of twee gelede vertel van die hartstogtelike ontmoeting tussen die man en sy vrou aan die einde van die boek. Ek het genoem dat hulle op staande voet verkeer. Ek het vertel dat sy haar bene om sy lyf geslaan het, maar wel nagelaat om te sê hoe driftig sy hom gesoen het. In die vroegoggend het ek gedroom van 'n verleier. Iemand wat uitsluitlik en obsessief op my gerig was. Ek het geaarsel omdat daar iets bedreigends in die man se attensies was. In die sagte, saamgeperste ruimte van die droom het hy hom met aanmatigende vrypostigheid aan my opgedring en hy was van 'n gloed omgewe. Ek het opgestaan en te gou het die inhoud en stemming van die droom my ontglip.

Vanoggend is ek geneig om te dink dit is die dood wat gisteraand so met my geflankeer en geflikflooi het. Waarom nie? Sou ek die dood nie op dié manier in my onbewuste kon inklee nie?

Hoe dood en lewe in die woordeboeke omskryf word, sê my min. As kind het ek dikwels lank sit en kyk na dooie insekte. Of ek sou 'n mier doodmaak om te sien wat dit is wat ek beëindig het. Ek sien nou dat ek die geheim van lewe met my kinderverstand probeer deurvors het.

"Het jy 'n duidelike idee van wat lewe is, van hoe dit ontstaan het?" vra ek vir Theo.

"Dit moet jy vir Hugo Hattingh vra," sê Theo.

"Sal hy weet?"

"Hy sal weet, neem ek aan. Hy behoort te weet hoe die eerste lewe ontstaan het."

"Hoe 'n soort man is hy?" vra ek.

Theo Verwey maak 'n vreemde kop-en-skouer-gebaar. Ontkennend, afwysend, geringskattend? Ek kan nie sê nie.

"Ek ken hom nie," sê Theo. "Het jy al die kaarte alfabeties begin rangskik?" vra hy.

Nee, ek het nie. Ek kyk deur die stapeltjie kaarte in my hand. Doodaf, doodbabbel, doodjakker, doodlukas.

"Doodlukas?"

"Gewestelik. Doodonskuldig."

"Mooi," sê ek.

Doodluters as variasie van doodluiters, lees ek, doodmoor, doodsjordaan, doodsmare, doodswind, doodswym, doodboek, doodbaar, doodbus, dooddag, doodeens, doodellendig, doodflikker, doodgaan-en-weer-opstaan, doodgaanskaap, doodgaanvleis, doodgeboorte, doodgegooi, doodgeld, doodgetroos (gelate), doodgewaan, doodgooier, doodgrawer, doodhouergoggatjie, doodhoumetode."

"Dit hou nooit op nie," sê ek, "die doodsverbindings."

"Daar's mooi dinge daar," sê Theo, "doodhoumetode – waarby die voorkoms van die dood nageboots word, jy weet, deur 'n slang, of 'n goggatjie; doodgegooi – baie verlief; doodkiskop – die kopvorm wat kenmerkend is van die Afrikanerbees; doodskloppertjie; doodtrapper; doodvalsiekte vir vallende siekte. Om maar 'n paar te noem. Soveel van hierdie vorms het verlore gegaan."

"Die wêreld verander," sê ek. "Ons gaan nie meer op dieselfde intieme manier met die dood om nie. Ek het nog nooit 'n doodsmare ontvang nie. Of die doodswind voel waai nie. Ek ril trouens effens by die gedagte."

Theo lag effens. "Doodswind, ja. 'n Onaangename gedagte."

"'n Onwelvoeglike gedagte," sê ek. Hy glimlag.

Ek kyk verder deur die kaarte in my hand. Doodkisbeslag, doodkiskleed, doodkiskop, doodkisvoete, doodknies, doodlallie.

"Doodlallie!" sê ek. "Waar kom dit vandaan?"

"'n Gewestelike woord."

Ek bepaal my weer by die kaarte. Doodloopgroef, doodloper, doodnegeer, doodop.

"Doodop?"

"Totaal uitgeput."

Doodsbaar, lees ek verder, doodsbeen, doodsbekerswam, doodsbenouenis, doodsdal, doodseën, doodsgekla, doodstoot, doodsgraad.

"Doodsgraad. Asof die dood grade het!"

"Die graad waarbo of waarbenede protoplasmiese lewe nie kan bestaan nie."

"Protoplasmiese lewe," sê ek. "Sou dit die eerste, of mees basiese vorm van lewe wees?"

"Vra dit ook maar vir Hattingh," sê Theo.

"Sou dit die oerslym wees?"

"Dit sou kon wees, ja."

Doodshemp, lees ek verder, doodshuis, doodsit, doodsjaar, doodskamer, doodsklok, doodskloppertjie, doodskopaap, doodslaaf, doodslaer, doodsmuur.

"Ek klee my in my doodshemp en gaan lê op die bestemde uur in die doodskamer. Buite hoor ek die doodsklok lui," sê ek.

Theo Verwey glimlag.

Doodsê, doodsnood, doodsreën, doodsrilling, doodstaar, doodsteken, doodstraal, doodstrek, doodsuie, doodsuur, doodtuur, doodvis, doodsveld, doodsvertreder.

"Doodtuur."

"Jou byvoorbeeld doodtuur op wat onontwykbaar is."

"Soos die doodsuur," sê ek.

"Soos die doodsuur," sê hy.

"Doodvis vind ek ook mooi. Dat 'n stuk water doodgevis kan word."

"Ja," sê hy, "dit is 'n besonder effektiewe verbinding."

Doodsvlek, doodsvuur, doodvalsiekte, doodvlag, doodvreter, doodverwonder, doodwaterpas, lees ek.

"Wat is die oorsprong van die woord dood?" vra ek.

"Waarskynlik van die Middelhoogduits Tod, die Oudhoogduits Tot, van die Goties daupus, waarvan die letter p soos die Engelse th uitgespreek word – waarskynlik gevorm op die Germaans dau," sê hy. "Vergelyk die Oudnoorse vorm deyja, om dood te gaan."

Ek sou hom wou vra hoe hy oor die dood voel, noudat ons die doodsterrein so intensief betree, maar dit is 'n te intieme vraag. Doodintiem. So intiem soos die dood. Tot die dood toe intiem. Onwaarskynlik. So goed ken ons mekaar nog nie. So goed sal ons mekaar waarskynlik nooit ken nie.

Ek blaai verder deur die kaarte. Dader en daderes. (Is dit ek en Theo Verwey? In watter konteks is ons die dader en die daderes?) Dadelikheid. Dadedrang. Nog beter – daedaliese dadedrang. Daarstraks en daarenteen, dampig (haar slape van liefdesgenot). Dries (met astrante aanmatiging), driebou en driedop.

"Daktilomansie," sê ek, "jy het seker geweet . . ."

"Waarseggery uit die vingers," sê hy, "van daktilo, woordelement met die betekenis van vinger of toon, soos in daktiloskopie."

"Die ondersoek van vingerafdrukke," sê ek.

"Met die oog op identifikasie," sê hy, "wat berus op die feit dat die uitstekende huidlyste op die vingers van geen twee persone ooreenkom nie – en dat hierdie patroon lewenslank onveranderd bly."

"Huidlys," sê ek, "vind ek een van die vreemdste woorde in die taal. Naas dermbeendoring."

*

Vrydagoggend luister ek en Theo Verwey na Cimarosa. Andrew Riddle is die dirigent, sê Theo. Eers dink ek hy trek my been. Riddle, soos in raaisel? vra ek. Ja, soos in raaisel. Riddle het die Londense Simfonieorkes verlaat om hom by die Berlynse Filharmoniese Orkes aan te sluit, sê Theo, en daarin geslaag om dit weer op die been te bring.

Die musiek spreek nie vanoggend tot my nie. Ek buig oor my kaarte. Waar moet ek begin? Ek het dinge op die hart. Dringende kwessies waarvoor ek nie gepaste woorde vind nie.

Ons werk 'n ruk lank swygend langs mekaar.

Ek is besig met die woord dool. Doolgang, lees ek, die sifbeen se holtes is 'n doolgang. Figuratief is dit 'n dwaalweg. Die doolgange van die misdadiger se lewe. Ronddool. Die spoor byster raak in geestelike of sedelike sin, van die weg van die deug afdwaal.

"Wat verstaan jy onder die deugdelike weg?" vra ek vir Theo.

Hy lig sy wenkbroue vraend.

"Deug is die geneigdheid tot wat goed is, en die deugdelike weg is 'n metafoor vir 'n lewe waarin die goeie nagestreef word," sê hy. Hy het helder oë. Hy is onberispelik hoflik. Sy blik rus gelykmatig op my – sonder nuuskierigheid of aandrang. Dit weerhou my egter nie daarvan om my tot hom te rig nie. Wil ek hom uitlok? Naas sy belangstelling in woorde het hy 'n groot liefde vir musiek. Ek het geen beswaar om saam met hom te luister nie. Ek hou van musiek. Ook hier kan ek baie by hom leer.

"Doolgang vind ek 'n mooi woord," sê ek, "dit spreek my verbeelding aan. Ek kan my iets konkreets en iets poëties daarby voorstel. Maar die deugdelike weg, daarby kan ek my min voorstel."

Hy knik hoflik. "As begrip en as uitdrukking het dit waarskynlik lank reeds sy geldigheid verloor," sê hy. Hy dink oor iets na; sit 'n rukkie voor hom en uitkyk voor hy weer na sy werk terugkeer.

"Hoe het virtue deug geword?" vra ek.

"Virtue kom via die Latyn na die Oudfrans vertueux, deug is van Germaanse oorsprong," sê hy (sonder om van sy werk op te kyk), "van die Nederlandse deugen, afkomstig van die Middelnederlandse dogen." Hy is ook iemand met onderskeidingsvermoë, het ek agtergekom, hy hou van mooi goed. Ek het gesien hoe hy ongemerk 'n koppie lig om na die merk onder te kyk, en die teelepel omdraai om die silwermerk na te gaan. Dit het ek die dag gesien toe Matroos ons teetyd op koek getrakteer het. Matroos het naamlik sy eie teeservies, lepeltjies en koekvurkies saamgebring. Geen halwe maatreëls vir Matroos nie – net die beste vir hom, het Sof teenoor my opgemerk.

Doolhof, lees ek. Iets waarin 'n mens jou pad nie kan vind nie; plek waar 'n mens (maklik) verdwaal; verbysterende netwerk; labirint. Figuurlik is die betekenis 'n ingewikkelde saak, of die geheel van omstandighede, waarin dit moeilik is om die regte weg te volg; waaruit 'n mens moeilik iets wys word. Die fisiologiese betekenis is die gange en ruimtes in die temporale skedelbeen waarin die ewewig- en gehoorsintuig lê.

Deug en deugdelik. Ek sien Theo Verwey as 'n deugdelike man – 'n inagnemende eggenoot en 'n liefdevolle vader. Hy is terughoudend. Hy hou terug. Wat hy terughou, weet ek nie. Ek het my vermoedens oor sy innerlike lewe. Ek stel my voor dit is ordelik geliasseer soos sy kaartsisteem. Dit sal my verbaas as ek ooit moet hoor dat hy hom aan die een of ander buitensporigheid skuldig gemaak het. Dit is 'n man van wie die wil – of die deugdelike impuls – die aptyt, die plesiersoekende instansie, deeglik in toom hou. So lees ek hom. Ek mag verkeerd wees.

*

Ek sit met die kaarte in my hand. Ons is steeds besig met die letter D. Dorskuur (soos 'n hert in dorre streke). Dorslied en dorsnood. Dorsnood? vra ek. In minder gebruiklike samestellings soos dorsbrand, dorsdood, dorspyn, sê Theo, met die betekenis van veroorsaak deur dors. Sal ons iets gaan drink? vra ek. (Theo glimlag.) Dos. (Hoe sjarmant sien hy vanoggend daar uit, uitgedos in die fraai roomwit syhemp.) Gedos in die drag van die dodekleed, sê Leipoldt. Doteer. Douboog, doubos, doubraam. Douig – geen woord vir hierdie provinsie nie. Al die draadverbindings! Wie sou kon dink, sê ek vir Theo, dat draad, draag en draai soveel verbindingsmoontlikhede sou hê! Draaihaar, sê ek, is dit jou ervaring ook dat mense met draaihare kwaai is? Theo glimlag kopskuddend. Draaihartigheid sou eintlik 'n karaktereienskap moes wees, sê ek. Draais. (Soos jags.) Maar dit is veral droef wat my interesseer. 'n Neerslagtige stemming. Van leed getuigend. Wat leed veroorsaak of daarmee gepaardgaan. Wat 'n sombere stemming wek. Bedroewend. Ook in verbinding met selfstandige naamwoorde ter aanduiding dat die genoemde kleur troebel, dof is en tot droefheid, treurigheid en neerslagtigheid stem. (Droefrooi.) En droefheid is die toestand of hoedanigheid van droewig, treurig, verdrietig wees; terneergedruktheid, neerslagtigheid; iets droewigs, treurigs; hartseer, teenoor blydskap. Is dit al? dink ek. So weinig woorde vir 'n emosie met soveel skakerings – die ganse kleurspektrum – van droefwit tot droefswart, van droefpurper tot droeforanje. (Droeforanje, droefblanje, droefblou.)

Used by permission of Open Letter Books. The Book of Happenstance will be out in stores in June 2011.

Click here for more information about the book.